BESKERMINGSMAATREËLS OM ONDERNEMINGS KUBERVEILIG TE HOU

Die pandemie het nie net ‘n impak gehad op die manier waarop ondernemings bedryf word nie, maar ook op hoe ondernemings tegnologie gebruik volgens die Santam Versekeringsbarometer 2020/2021. Ten einde by hierdie nuwe normaal aan te pas, moes baie maatskappye vinniger as wat hulle beplan het digitaliseer, wat hulle aan nuwe en onbekende risiko’s blootstel.

Met kubermisdaad wat aan die toeneem is, moet ondernemings besonder waaksaam wees om rampspoedige dataskending en ander kubersekuriteitsvoorvalle te voorkom.

Nie net ‘n probleem vir groot ondernemings nie

Kuberrisiko moet gekonfronteer word – en nie net deur groot maatskappye nie. Hoewel groter ondernemings na ‘n aantrekliker teiken kan lyk, is dit makliker om kleiner ondernemings aan te val omdat hulle dikwels nie gevorderde sekuriteitsmaatreëls het nie. Dis noodsaaklik dat albei besef hoe ‘n groot bedreiging kubermisdaad is en seker maak dat hulle voldoende beskerming teen die moontlik verlammende uitwerking daarvan het.

Nuwe veiligheidsmaatreëls vir ‘n nuwe normaal

In baie ondernemings is daar ‘n hibriede werkwyse in plek, en daarom is dit belangriker as ooit tevore om inligtingsekuriteit en privaatheid te handhaaf. Dit beteken dat maatskappye met hul IT-afdelings moet vergader om hul strategieë met betrekking tot kubersekuriteit aan te pas.

Hierdie veiligheidsmaatreëls kan die volgende insluit:

• Voorsiening van toestelle wat deur die maatskappy uitgereik word aan alle werknemers wat van die huis af werk.

• Installering van omvattende beskerming teen wanware om kwaadwillige bedreigings te bespeur.

• Gereelde opdaterings om voorheen erkende kwesbaarhede op te los.

Toestelle moet ook slegs vir werkverwante take gebruik word om die aard van aanlyn interaksie te beheer, en sakeversekeringspolissebehoort uitgebrei te word om werk van verskillende plekke af in te sluit.

Die belangrikheid van veilige internettoegang

‘n Onveilige tuisnetwerk kan kuberkrakers toegang gee tot belangrile inligting wat op rekenaars en ander toestelle wat aan dieselfdenetwerk gekoppel is, gebêre word.

Voorkomende maatreëls sluit in:

• Verandering van verstek-WiFi-name om dit moeiliker te maak om bepaalde tuisverbindings en roeteerdervervaardigers te herken.

• Gereelde verandering van verstekwagwoorde en om seker te maak dat dit uit minstens 20 karakters met ‘n kombinasie van getalle, letters en simbole bestaan.

• Afskakeling van draadlose netwerke wanneer jy die huis verlaat.

• Opgradering na ‘n roeteerder met ‘n ingeboude skermmuur.

Hoe tussengangers ondernemings kan help om aan te pas

Tussengangers voeg die meeste waarde toe waar kennis en vaardighede nodig is om risiko’s te identifiseer en oplossings te vind wat aan die kliënt se behoeftes voldoen, veral wanneer dit by kubersekuriteit kom. Hulle speel ‘n uiters belangrike rol om groter bewuswording van kubermisdaad te skep deur kliënte in te lig oor die voordele van kuberverwante sakeversekering en te verduidelik hoe die dekking werk.

Article courtesy of Santam